Koelkas Appel Soetkoek [Ouerleiding (PG – V)]

cake-1290849_1920

 

Wees gewaarsku: Daar is baie geweld in hierdie resep. Die woord “klits” word twee keer gebruik, die woord “sny” en die woord “mes”, een keer.

 

Hierdie nagereg bevat appels. Dit kwalifiseer dus as deel van jou gebalanseerde dieet.

 

Doen altyd ‘n voor-haalbaarheidstudie voordat jy nagereg maak. Die aandeelhouers moet daarin inkoop.

 

Gebruik ‘n standaard grootte. So, almal weet wat ‘n standaard grootte is? Is dit reg, my Heuning? Ek bedoel my Suiker poppie. Wat is jou naam nou weer?

 

Grondwetlike toelaatbare bestanddele:

 

‘n Halwe koppie suiker of plaasvervanger of alternatief. Suiker is sleg vir jou en die versoeter is blykbaar nog erger. Die persepsie is dat jy baie suiker benodig om ‘n nagereg te maak.

 

Een en ‘n halwe koppie koue water. Water behoort aan die staat. Tog koop ons gebottelde water. Is dit wettig? Die bottel behoort aan die betrokke maatskappy, maar die water binne die bottel behoort aan die staat. Die Konstitusionele Hof moet nog hieroor besluit, naamlik of water so verkoop mag word. Dit is ‘n argumenteerbare regspunt van algemene belang. “Ons die mense”, dit is ons almal, ryk of arm, eis gratis water.” Ons eis ook vertroue. Daar is egter beperkte vertroue in ‘n hond-eet-hond samelewing (hierdie gereg word daagliks opgedis), want dit gaan slegs oor besigheid. Vir die liefde vir geld gaan jy daardie ekstra myl of 1,6 kilometer, afhangende van waar jy woon, loop. Sorg net dat jy ‘n kompas saamvat as jy begin loop en jy moet ook weet waar “true north” is. GPS vir die ouens wat nog nooit van ‘n kompas gehoor het nie. Omdat daar ‘n vermoede is dat jy niks en niemand meer kan vertrou nie, sal ek geen geld op ware noord sit nie. Neem ‘n spyskaart saam ingeval jou GPS se battery pap raak. Kaartlees is egter nie vir almal nie. Dan is daar altyd die sterre. Altyd iets om op terug te val. Die sterre waarvan ek praat is daai blink goed naby die maan. Vir die maan google https://en.wikipedia.org/wiki/Moon.

moon-1527501_1920

‘n Pakkie jellie (gelatien) poeier met magnesium (2%) en vitamien C (2%). Vir jou daaglikse aanvulling, sal jy heelwat jellie moet eet. Maak seker die tekstuur is ongeveer 180 Bloom gelatien. U kan die volgende vergelyking gebruik:

 

C x B½ = k

 

Of C1 (B1) ½ ÷ (B2) ½ = C2

 

Waar C = konsentrasie – jy benodig baie konsentrasie hier, B = Bloom sterkte en k = konstant. Byvoorbeeld, wanneer jy jellie maak, is dit belangrik om te weet dat ‘n 180 Bloom-gelatine ‘n minder dik tekstuur het as ‘n 250-blom-gelatine. Dit is blooming goed om te weet!

 

Jy moet jou kliënte vertel dat die jelliepoeier gemaak word van die onttrekking en suiwering van gelatien uit die voet van ‘n kalf. Dit is hulle reg om dit te weet.

 

Appel seisoen. As dit nie Appel seisoen in Suid-Afrika is nie, kry dit uit China.

 

‘n Halwe t-lepel wit of pienk sout. Wees rasioneel met die sout. Minder is beter as meer. ‘n Goeie idee is om die sout op die lepel plat te druk.

 

‘n Klein lepel gerasperde suurlemoenskil. Hierdie resep se nie in watter graad die suurlemoenskil gerasper moet word nie. Gebruik dus “default”. Ek weet egter nie watter kant van die rasper “default” is nie.

 

‘n Standaard koppie room of twee-derde koppie verkoelde verdwynende tipe melk,  onverdund. Gebruik die melk voordat dit verdwyn.

 

‘n Derde koppie vars gemaalde moeras-mallows of enige ander soort mallow uit ‘n moeras gebied. Die mense in die Wes Kaap moet dit maar invoer.

 

‘n Groot appel geskil en gerasper (sowat 1 china koppie). Moet nooit vars pynappel-, kiwi-vrugte, vye of papaja gebruik nie. Dit meng nie met jellie nie. Selfs in die natuur, net soos die politiek, kan jy nie alles meng nie. Kyk na die atoombom, ‘n mengsel met ernstige gevolge. Probeer om jou ma en jou vrou te meng Sit hulle in dieselfde kombuis. Wêreldoorlog III. Dit kan ook ‘n belangebotsing tot gevolg hê, dit is ‘n situasie waarin die doelwitte of bekommernisse van twee verskillende partye, die moeder en die vrou, onverenigbaar is. Die mengsel of die konflik voorspel niks goeds vir jou gesondheid nie.

 

Twee-derdes koppie geel ronde bal – of marie-koekie krummels. Jy kan die twee kombineer en dit ‘n gesamentlike onderneming maak. Ekskuus oor die “marie” – dit moet lees “no name”.

 

‘n Paar druppels rooi kleur. Diskrimineer egter nie teen die ander kleure nie. Dit is nie regverdig nie. Volgende keer gebruik groen, dan geel, ensovoorts. Hierdie punt moet bespreek word, byvoorbeeld, is rooi belangriker as pers of groen? Moet jy eers geel gebruik? “Soos dit egter gepas is in ‘n hofsaak, is dit belangrik dat die bakker nie abstrakte of hipotetiese kwessies argumenteer nie, en moet hy of sy skaars hulpbronne bestee aan bestanddele wat reg is.” Aan die einde van die dag bepaal jou oriëntasie die kleur.

 

Room en appelskyfies vir opsmukking. Dit is in die belang van die bakkersbedryf dat u die nagereg behoorlik moet versier.

 

Jy benodig ‘n vierkantige braaipan of bakplaat van 8 x 8 x 2 dm. Jammer vir die dm. Hierdie resep kom uit die ark uit.

 

Die proses:

 

Sit die rietsuiker en fontein water in ‘n kastrol, verhit om te kook en roer tot suiker opgelos word.

 

Kook 120 sekondes. Die sterftes (tydperk) verval na die 2 minute. Jou mengsel sal buite tyd wees as jy dit langer kook.

 

Verwyder of neem van plaat voordat dit stoom, voeg jelliepoeier, suurlemoenskil (as jy kinders het, liefs iets anders) en sout by en roer tot jelliepoeier opgelos is.

 

Giet in ‘n groot bak, laat dit afkoel en ontspan totdat die mengsel dik geword het – soos ongeklopte eierwit.

 

Voeg intussen die marshmallows en room by en koel in ‘n yskas-vrieskas of gewone yskas of vra iemand wat jy weet “cool” is vir hulp. Daar is baie van hierdie karakters in jou onmiddellike omgewing. Op die einde van die dag, sal jy kan regkom.

 

Klits die jellie mengsel tot lig en skuimig – ongeveer 5 minute. Ek bedoel, wees meedoënloos. Dit is jou produk. Jy moet beïndruk. Die aandeelhouers, dit is die familielede, wil ‘n lekker nagereg hê. Die wenner vat alles. Moenie om die bos klop nie. Hulle mag vanaand vriende bring. Jy moet ‘n ligte en skuimagtige mengsel genereer. Vergeet die ander wang of morele en etiese beginsels. Vandag, gedurende die week, is dit net besigheid. Na hierdie klits, en nadat jy van die 10% vrot appels ontslae geraak het, kan jy uitsien na jou nagereg. Dit is net besigheid. En onthou, liefie, na hierdie klop kan jy uitsien na jou byeenkoms hierdie naweek om mense te wys dat jy nie so meedoënloos is as wat hulle gedink het nie. Dit is maklik om mense te mislei. Gedurende die week, en tydens die maak van nagereg, is dit net besigheid. Wees ‘n leier – wees hard – ongepoets. Die naweek mag jy weer mens wees. Maar dit is vir Saterdag of Sondag. Nou mag jy maar die rommel uit die jellie klop!

 

cake-113606_1920

 

“Toe het Hy met toutjies ‘n sweep gemaak …” Soms is dit nodig. Maar meestal, nie. Ons lees net een keer hiervan. Die konteks of gebeure hier is natuurlik belangrik. Om aangeleenthede te debatteer is die beste manier om dinge te ontlont, en jou nie tot geweld wend nie.

 

Klits room, of die verdompte … err … verdampte melk, totdat dit stewig is, vou die jellie mengsel met ‘n plastiek of metaallepel. Ons het reeds in die media gesien dat geweld nou normaal geword het. Nou moet u ontslae raak van u frustrasies. Moenie terughou met die klop-klits nie. Wees genadeloos, wees onstuitbaar, soos Wonder Meisie of Super Man. Vloek maar – dit is normaal. Almal doen dit. Gebruik woorde soos flippen, skedaddle, gaan na die maan, en dies meer. Vieslik, maar was maar jou mond uit met seep of rooi peper. ‘n Juffrou het my rooi peper laat eet. Ek het dit nie daardie tyd besef nie, maar rooi peper is eintlik goed vir jou. Ek moet nog vir haar ‘n kaartjie stuur.

 

Meng liggies maar deeglik. Maak dit sin? Soen liggies, maar deeglik. Ek weet darem nie.

 

Voeg ‘n paar druppels kleur by om die mengsel … wag .. te kleur.

 

Bedek die pan met die helfte van die krummels (dit is 500 krummels) en voeg die jellie mengsel saggies by. Saggies?

 

Sprinkel die oorblywende 500 krummels eweredig oor die bokant. Moet nie meer as 500 krummels gebruik nie.

 

Koel om te droog of los oornag of laat staan ten minste vir 4 uur. As u dit nie regkry nie, is dit wetlik verkeerd.

 

Maak los met ‘n mes en dip op ‘n deeg bord of modder bord of ander higiëniese plat oppervlak.

 

Sny in 16 blokkies (15 plus een reserwe) , plaas op ‘n plat bak en versier elke vierkant met room en appelskywe. Vra jou eggenoot, vry meisie, skelm, metgesel of troeteldier om die eerste een te probeer. Jy sal gou weet of die gebak ‘n sukses was of nie. As jy nie seker is of die karakter vir jou die waarheid vertel nie, gebruik ‘n poligraaf toets. Hulle se dit is baie akkuraat. Jy sal dan weet of hy of sy eerlik was.

 

Nota aan self. Kos bepaal jou gedrag. Nagereg bepaal dit nog meer. Wees versigtig en moenie moeilike of kwaai mense uitnooi nie.

 

Die resep is ‘n satire. Moenie dit letterlik opvat nie. Wees ook ingelig oor “vals nuus”. Almal, ongeag geslag, ouderdom of ras stel resepte op. As ek se dat hierdie my ouma se resep is, diskrimineer ek byvoorbeeld nie teen oupas nie. Ek is seker daar is heelwat oupas wat al resepte opgestel het. Veral die laaste 20 jaar. Dit is maar net dat my ouma verkies het om resepte te skryf en my oupa verkies het om lokomotiewe te bestuur.

 

 

 

 

Advertisements

One thought on “Koelkas Appel Soetkoek [Ouerleiding (PG – V)]

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s